Home   Alpabetical list of all authors

Die vlakte

Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur,
wat my swyend omsluit.

Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot
bo die diep van die meer;
en volswanger van lewe oor waat geswewe
die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
brag die aarde voort
Lewiátansgeslagte, geweldig van kragte
storm-ontruk aan haar skoot.
Diep in my gesteente berg ek hul gebeente
die geheim van hul lewe en lot;
maar gewek uit die sode herleef uit die dode,
na die ewig hernuwingsgebod,
die stof van die verlede in vorme van die hede,
in eindeloos kome en gaan;
wat die dood my vertrou, ek bewaar dit as goud,
en geen grein sal verlore laat gaan.

As die son oor my vloer in die môre kom loer
en die dou van my lippe kus,
dan kyk ek net stom met glimlag om
en maar weer stil in my rus.
Hoog bowe die kim op sy troon geklim,
is hy heer van lewe en dood;
na wil en luim geef hy, skraal of ruim,
verderf of lewensbrood.
Uit gloeiende sfeer brand hy wreed op my neer
tot my naaktheid kraak en skroei,
en my koorsige asem in bewende wasem
al hygend my bors ontvloei.
In sy skadetjie rondom sy stam op die grond
staat ’n eensame doringboom,
soos die Stilte op haar troon, met dorings gekroon,
wat roerloos die eeue verdroom.
Geen drop vir die dors aan my stofdroë bors:
my kinders versmag en beswyk,
en die stowwe staan soos hul trek en gaan
om my skrale dis te ontwyk.

Soos ’n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom ’n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot ’n stapelbou
van marmer wat krul en leef –
kolossaal monument op sy swart fondament,
waar die bliksem in brul en leef.
En o, met my is die windjies bly:
hul spring uit die stof orent
en wals en draai in dwarrelswaai
oor my vloer, van ent tot ent;
die gras skud hul wakker om same te jakker,
tot hy opspring uit sy kooi
en soos mane en sterde van jaende perde
sy stingels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
kom die eerste druppels neer,
tot dit ruis alom so deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en te buit
jaag ’n haelwolk langs verby,
soos ’n perde-kommande wat dreun oor die lande
vertrap en gésel hy –
en sy lyke-kleed sien ek ver en breed
in die awendson gesprei.

Stil in die duister lê ’k so en luister
hoe die spruite gesels en lag;
maar bowe die pak van my wolkedak
het die maan al lank gewag:
nou breek en skeur hy ’n baan daardeur
om te deel in my vreug benede;
hy sprei die waas van sy romig-blou gaas –
en ek lag so stil-tevrede.
Plek op plek, soos die wolke trek,
sweef die skaduwees onder mee,
soos eilande wyd oor die waat’re verspreid
op die boesem van die grote see.
Met ’n afskeidskus gaat die maan ook ter rus,
en ek wag op die daeraad –
so skoon en so mooi soos ’n fris jong nooi
wat lag in haar bruidsgewaad.

Oor die bulte se rug slaat die gloed in die lug
van brande wat ver-weg kwyn,
en doringbome fluister in rooi skemerduister
van gevare wat kom of verdwyn.
Uit slote en plas, uit die geurende gras,
styg ’n danklied op ten hemel;
en dis net of ek hoor hoe die kriekies se koor
weergalm uit die sterre-gewemel,
waar wêrelde gaan op hul stille baan
tot die ende van ruimte en tyd.
So, groots en klaar, staat Gods tempel daar,
in sy majesteit.

Jan F. E. Celliers


Webmasterwww.StellenboschWriters.com © Rosemarie Breuer

     Publisher of special editions Books